YOUTH TOURS BY TEMBA COLLEGE/TRAVEL

Tel 021 8550395    Fax 021 855 5764

KALAHARI VASBYT INLIGTING

Temba Kollege CC 2004/009414/23 11 Broad Oaks Close Somerset Wes Tel: 021 8550395 www.temba.co.za andries@temba.co.za

vasbyt pic

BEGINSELS EN DOELWITTE

PRYS EN BESKIBAARHEID

ALGEMEENSTE VRAE

TERUG NA VASBYT TUISBLAD


KALAHARI VASBYT 2015

Sedert 1987 maak die Kalahari-Vasbyt ʼn verskil in jong-manne se lewens. Die kursus is fisies en geestelik moeilik, maar die wetenskaplike basis waarop dit aangebied word verseker dat jy dissipline leer en fiks word sonder om verneder te word. Trouens dit gaan waarskynlik die lekkerste vakansie van jou lewe word. Daar sal niks van jou gevra word wat die toerleiers nie ook bereid is om te doen nie.

Die Kalahari-Vasbyt is sonder twyfel een van die moeilikste, indien nie die heel moeilikste, fisiese en emosionele kursusse wat enige tiener enige plek in die wêreld kan doen nie. As jy dit maak sal jy altyd trots wees daarop en dit gaan vir altyd 'n verskil in jou lewe maak.

Deur vir hierdie avontuur in te skryf verbind jy jouself daartoe om hard te werk en ʼn groot sukses daarvan te maak. As jy nie belangstel nie, is jy welkom om by die huis te bly. As jy saamkom sal jy ook moet saamwerk.

Onthou die gedeelte van die Kalahari Vasbyt lied wat lei:
"Terwyl softies by die see lê 
en rondlê in die klubs,
word hier vriendskap en karakter
deur sweet en bloed gebou"

Alhoewel ons vroeër jonger ouens geneem het, verkies ons dat jy minstens 15 en nie ouers as 17 jaar is nie. Die ouens wat die kursus aan die begin van hul gr 11 doen, vind waarskynlik die meeste baat. Daar word voorkeur gegee ons mense wat in 2014 in gr 10 is.

Die koste van hierdie toer sal R15 980-00 beloop. Dit sluit alle etes, vervoer en ontspanning in.Witwater Rafting, Bungi Jumping en die Victoria Watervalle is ook ingesluit. Dit is ʼn uitdruklike voorwaarde vir deelname aan die toer dat jy nie meer as R800-00 sakgeld mag saamneem nie.

Die toer is vol aangename verassings. Tog is dit ook belangrik om daarop te let dat jy fiks terug gaan kom. Boonop sal daar van jou verwag word om die aangehegte beginsels te onderskryf. Onthou dat dit meer van ʼn veldgidskursus as ʼn gewone vakansie toer is.

Op hierdie toer rook en drink ons nie en dit geld ook vir my. Ons kry saam swaar en ons speel saam, al kry dié wat ouer as 40 is, so ʼn bietjie afslag tydens PT. Wat julle eet en drink, drink ons. As daar koeldrank is kry die volwassenes slegs as daar oorbly en as ons eet, eet die volwassenes laaste. Daar is geen ‘bungalows’ of spesiale geriewe vir die volwassenes nie. As ons ʼn luukse vir ons gun, maak ons seker dat julle ook daarin deel. Dit is die gees van die Kalahari-Vasbyt en dit is ons enigste belofte aan jou.

As jy ʼn jongman met karakter is wat avontuur wil beleef, lang ente wil bestuur in die veld, die omgewing wil leer ken en wil uitstyg bo die gemiddelde, is hierdie kursus waarskynlik net waarvoor jy gewag het.

KALAHARI-VASBYT BEGINSELS EN DOELWITTE

Persone wat op hierdie kursus wil gaan sal die volgende doelwitte en tradisies moet onderskryf:

  • Vasbyters help mekaar lewenslank.

  • Vasbyters vloek nie.

  • Vasbyters tree ridderlik op teenoor hul vriende, ouers, landgenote en teenstanders. Hulle is trots op hul goeie maniere, en streef dit ten alle tye na.

  • Vasbyters is altyd sober en hul rook beslis nie tydens kampe en toere nie.

  • Vasbyters verstaan die kuns om oor onderwerpe met mekaar te verskil. Hulle weet dat dit maklik is om saam te stem, maar hulle besef dat die grasie waarmee hulle met mekaar verskil die werklike barometer vir ʼn man se karakter is.

  • Vasbyters is nooit tevrede met gemiddelde prestasies nie. Vasbyters is wenners. Verloor is nie ʼn opsie vir Vasbyters nie.

  • Vasbyters verlos hulself van negatiwiteit en glo in hul toekoms. Vasbyters ontwikkel ʼn aktiewe potensiaal om negatiwiteit te ignoreer. Hulle vermy skinderstories oor die toekoms en werk aktief aan hul eie toekoms. Vasbyters stel vir hulself doelwitte en werk hard om dit te bereik.

  • Vasbyters ken hul eie beperkings en leer om dit te ignoreer. As jy jou die heeltyd blindstaar teen jou swakhede kom jy nêrens nie. Vasbyters neem kennis, werk daaraan en as hulle dit nie kan verander nie werk hulle daarom.

  • Vasbyters is radikaal. Hulle dink aan nuwe dinge en voer hul planne uit.

  • Vasbyters bou vir hulself en ander 'n netwerk. Vriende met wie hulle oor meer as net seks en partytjies kan gesels. Mense met wie hulle drome deel. Mense saam met wie hulle kan bid en aan wie hulself kan blootstel. Vasbyters kry idees by ander en gee hulle idees vir ander.

  • Vasbyters aanvaar dat hulle ʼn puncture gaan kry. Al hul planne gaan nie altyd uitwerk nie. Vasbyters weet egter dat planne wat nie uitwerk nie, nooit mislukkings was nie. Hulle gebruik dit as fondamente vir nog groter dinge. Papwiele(terugslae) is net geleenthede om met meer toewyding en vasberadenheid voor te begin of aan te gaan.

  • Vasbyters is voorbereid om in ʼn groep saam te werk terwyl hulle nooit hul individualiteit prysgee nie.

  • Vasbyters is fisies en geestelik sterk en toegerus. Vasbyters is fiks en is trots en streef daarna om ‘n goeie algemene kennis te hê.

  • Vasbyters glo dat God en Jesus Christus hul ankers is.

BOONTOE

PRYS

Die Kalahari-Vasbyt is afhanklik van borge vir die toer en ook vir beurse aan ouens wat reeds die kursus meegemaak het.

Kyk wat kry jy: 17 dae vervoer - Vliegtuigkaartjies R900.00 - Bungi VSA $110.00 - Witwater VSA $120.00 - 17 dae akkommodasie waarvan drie in chalets - Kursus materiaal R200.00 - Nasionale Parke toegange R2780.00 - 17 dae se uitstekende etes - Sertifikaat R450.00 en nog vele meer vir minder as ʼn vliegtuigkaartjie na Europa.

PRYS 15 980.00

BOONTOE

TERUG NA PROGRAM


ALGEMEENSTE VRAE.

WAT IS DIE REGTE OUDERDOM OM OP DIE VASBYT TE GAAN. Jy moet tussen vanaf 15 tot 17 jaar oud wees. Die heel beste tyd om dit te doen is aan die einde van gr 10 en die begin van gr 11. Die leierskapsontwikkeling gaan vir jou die meeste beteken op daardie ouderdom. Leerders moedig mekaar aan om aan die begin van G12 te kom. Gr 12's is welkom en so ook ouens wat net klaar is met skool. Alles wat ons doen is egter daarop gemik op Gr 11's.

IS DIT ‘N OORLEWINGSKAMP? Beslis nie. Jy sal altyd genoeg kos en water kry. Kos is meestal uitstekend. Die seuns word geleer om kos te maak en, omdat daar sulke hoë eise aan die kandidate (seuns) gestel word, is die kos feitlik altyd puik en meer as genoeg. Indien jy honger is op die Kalahari-Vasbyt gaan koop jy nie jou eie kos nie. Jy vra en ons sorg dat jy genoeg eet.

IS DIE VOERTUIE VEILIG? Ons gebruik orals padwaardige voertuie en groot sorg word aan die dag gelê om ongelukke te voorkom.Ons het splinternuwe Toyota Laandcruisers bestel wat ons voortaan op die kursus sal gebruik. Dit bly nietemin 'n baie gevaarlike deel van die kursus.

Busse en die veldvoertuie hou groot gevaar vir insittendes in indien die voertuig sou rol. Suid-Afrikaanse bus en motorongelukke is dikwels noodlottig. Veldvoertuie, busse en dubbelkajuit bakkies, bied weinig beskerming ingeval van ongelukke. Die baie sterk rolstawe van die veldvoertuie help slegs indien jy nie onder een beland nie. Ongelukke moet derhalwe vermy word deur die spoed aan te pas en so waaksaam moontlik te wees.

BUNGI JUMPING "Daar het al persone seergekry by laer spronge. Die brug by Victoria Falls is hoog. Derhalwe het geen persoon nog ʼn skrapie opgedoen in die nagenoeg 11 jaar wat daar elke dag minstens 70 spronge gedoen word nie. Om seer te kry in die bad is meer as 100 keer meer waarskynlik. Extreme Adventures bied hierdie avontuur aan. Hulle is uitstekend toegerus en bied ook die spronge in Suid-Afrika en Nieu-Seeland aan. " Bogenoemde was korrek tot 31 Desember 2011. Daar was toe 'n ongeluk waarin 'n meisie lig beseer is. Daardie ongeluk moes nooit plaasgevind het nie en 'n ondersoek het gewys dat die rek waarmee sy gespring het van swak gehalte was. Geweldig baie tyd en geld is spandeer om die probleem reg te stel en ons glo dat dit nou so veilig is as wat dit veronderstel was om te wees.

WHITE WATER RAFTING: Daar is reeds sewe persone dood sedert die sport in die tagtigerjare begin is. Vyf van hulle was gidse wat hul lewens opgeoffer het om kliënte te red wat nie instruksies gevolg het nie. Die Zambezi is ʼn groot rivier en die veiligheidsmaatreëls en instruksies van jou gids moet nougeset nagekom word. Die gidse is almal uitstaande vriendelik, fiks en onverskrokke. As jy hul instruksies ignoreer kan jy egter uiterste streng optrede en selfs ligte toepaslike geweld verwag.

Statisties is die persentasie ongelukke onbeduidend. Geen koste word nietemin ontsien om die gevolge van ongelukke so klein as moontlik te hou nie. ʼn Hele span reddingspersoneel sal die Vasbyters vergesel. Veiligheidstoerusting sluit onder andere reddingskajakke en ʼn helikopter met duikers in.

WILDEDIERE: Moenie illusies hê nie. Wildediere kan gevaarlik wees. Ek persoonlik aanvaar verantwoordelikheid hiervoor. Ek is dankbaar dat ek nog geen ongeluk beleef het nie. Die veiligheidsmaatreëls wat ek tref is al deur leeus en olifante getoets. Gelukkig het dit nog altyd gewerk. Seuns word sterk aangeraai om toe skoene in die veld te dra. Dit bied beskerming teen skerpioene en spinnekoppe.

ROETEMARS: Die roetemars is lank en moeilik. Voorsorg word getref teen wildediere. Niemand loop ooit in die nag nie en ek is voortdurend in kontak met die groep. Veral slange hou ʼn gevaar in. Die beste moontlike noodhulp sal altyd beskikbaar wees. ʼn Slangbyt kan noodlottig wees. Skerpioen steke en spinnekop byte is veel meer algemeen, maar gelukkig minder gevaarlik. Ek het in die verlede hierdie soort van ongelukke suksesvol behandel en het min twyfel dat ek dit ewe suksesvol in die toekoms sal kan doen.

WIE IS DIE TOERLEIER? Andries Erwee (1958-model)en pa van twee dogters. Ek glo dat ek my roeping uitleef ten opsigte van die jeug. Ek het al Die Burger se jeugtoere (41 in totaal) gelei.

As veldgids of natuurgids het ek werklik baie ervaring en is as sulks geregistreer by die S.A. Departement van Omgewingsake en Toerisme (WC 2853). Ek is ʼn gerespekteerde lid van die Federasie van Suider-Afrikaanse Veldgidse (nr. 7486) en beskik oor ses nasionale veldgids kwalifikasies. (TG01,TG08/TG11/TG12/TG14/TG18) en as kultuurgids oor die hoogste nasionale gradering. Ek beskik oor 'n nagraadse onderwysdiploma en het 'n meestersgraad in leierskapsontwikkeling. Ek hoop om 'n meestersgraad in Wildlewe Bestuur in 2014 te voltooi. Verskeie tydskrifte en nuusblaaie het al positiewe artikels geplaas oor my opvoedkundige metodes. Ek sal bygestaan word deur minstens twee jonger volwassenes. Sien sodanige artikel. Lees artikel

WAT WIL JULLE BEREIK? Die Kalahari-Vasbyt beweging glo baie sterk daaraan om jongmanne te bemagtig en nie geskenke uit te deel nie. Op hierdie toer sal u seun geleer word om nie te “demand” nie, maar om ʼn weg te vind om homself te help. Vasbyters sorg egter ook vir mekaar en die idee is dat ons later toenemend meer beurse beskikbaar sal stel vir oud Vasbyters.

IS DIT FISIES UITPUTTEND? Jy gaan beslis grense oorsteek op die Vasbyt. Daardie grense is fisies. Jy kan veel meer fisies doen as waaraan jy nou dink en ons gaan daardie grense oorsteek. Jy gebruik waarskynlik net ʼn baie klein deel van jou brein en ons gaan ook daardie grens oorsteek. Jy gebruik die mense rondom jou waarskynlik baie minder as wat hulle bereid is om te doen. Ook daardie grens gaan jy oorsteek. Jy is waarskynlik in staat om jou vriende en ouers baie meer by te staan en om baie meer in die gemeenskap te doen as wat jy tans doen. Ook daardie grens gaan jy oorsteek. Die Kalahari-Vasbyt is vir jongmanne wat moeg is vir die boring lewe van gemiddelde mense en iets spesiaal wil doen. Vir ouens wat wil uitstyg. Uitstyg is moontlik en lekker, maar altyd moeilik en uitputtend. Hierdie kursus leer jou om jou drome werklikheid te maak en drome te droom wat jy nooit oor sou dink nie.

NET TE VEEL GELD VIR ‘N BINNELANDSE TOER? Kyk wat kry jy: 16 dae vervoer - Vliegtuigkaartjies R800.00 - Bungi VSA $110 - Witwater VSA $120 - 17 dae akkommodasie waarvan drie in chalets - Kursus materiaal R200.00 - Nasionale Parke toegange R880.00 - 16 dae se uitstekende etes en nog vele meer vir minder as ʼn vliegtuigkaartjie na Europa.

IS DIT NIE BUITENGEWOON WARM IN JANUARIE NIE? Dit is normaalweg baie gemaklik en lekker langs die Namibiese kus. Ook die noordelike deel van Namibië, Botswana en Victoria Falls is heel gemaklik. Ek het al uiters warm weer in die Sentraal Kalahari beleef tydens Januarie. Vanweë die wolke in Januarie is die gemiddelde temperatuur 4,3 grade koeler as in November en 2,8 grade koeler as Oktober. Berei jou nietemin voor op warm weer.

WAT GEBEUR AS EK OM EEN OF ANDER REDE UITVAL? Solank as wat jy aktief deelneem aan die kursus en die doelwitte onderskryf, bly jy deel van die toer. Jy sal selfs ʼn sertifikaat ontvang waarop sal staan dat jy die kursus bygewoon het. Op die wat die kursus geslaag het se sertifikaat, staan dat hul die kursus geslaag het. Ten einde die kursus te slaag sal jy sekere fisiese mikpunte moet behaal.

IS DIT MOEILIK OM DIE KURSUS TE SLAAG? Baie moeilik. Dit stel hoë fisiese en geestelike eise. Geen akademiese toets word afgeneem nie. Almal met die regte motivering kan die kursus slaag. Jy sal bv die 3000 m in onder 16 minute moet voltooi en die groep ‘n gemiddelde tyd van 14 minute moet kan doen. Dit is waarskynlik die maklikste hekkie om oor te kom.

WAAROM NIE MEISIES NIE? Ons beplan 'n soortgelyke toer vir meisies in September. Kyk gerus na die Meisie-Avontuur op ons web bladsy. Ons wil nie die seuns en meisies op een kursus neem nie. Daar is dinge wat fisies onmoontlik vir meisies is om te doen en daar is ander dinge wat ouens nie kan doen nie. Boonop verloor ouens hul fokus as meisies by hul is soos wat 'n reunhond sy fokus verloor as daar 'n teef naby is wat op hitte is.

HOE WORD DIE OUENS GEKEUR? Daar vind geen keuring plaas nie, maar dit is belangrik om te weet dat jy aan sekere fisiese vereistes moet voldoen om die kursus te slaag? As jy meer as 15% oorgewig is of 'n fisiese gestremdheid het, gaan jy waarskynlik nie die kursus maak nie. As jy hieroor twyfel moet jy gerus jou apteker of dokter se raad vra. Jy moet ook 3000 m in minder as 16 minute kan afdraf as jy die kursus wil voltooi.

BOONTOE