ALGEMEENSTE VRAE.
WAT IS DIE REGTE OUDERDOM OM OP DIE VASBYT TE GAAN. Jy moet tussen vanaf 15 tot 18 jaar oud wees. Die heel beste tyd om dit te doen is aan die einde van gr 10 en die begin van gr 11. Die leierskapsontwikkeling gaan vir jou die meeste beteken op daardie ouderdom. Leerders moedig mekaar aan om aan die begin van G12 te kom. Gr 12's is welkom en so ook ouens wat net klaar is met skool. Alles wat ons doen is egter daarop gemik op Gr 11's.
IS DIT ‘N OORLEWINGSKAMP? Beslis nie. Jy sal altyd genoeg kos en water kry. Kos is meestal uitstekend. Die seuns word geleer om kos te maak en, omdat daar sulke hoë eise aan die kandidate (seuns) gestel word, is die kos feitlik altyd puik en meer as genoeg. Indien jy honger is op die Kalahari-Vasbyt gaan koop jy nie jou eie kos nie. Jy vra en ons sorg dat jy genoeg eet.
IS DIE VOERTUIE VEILIG? Ons gebruik orals padwaardige voertuie en groot sorg word aan die dag gelê om ongelukke te voorkom. In die verlede het ons met ‘n bus en veldvoertuie gery, maar vanaf 2007 het ons wegdoen met die bus. Dit is eenvoudig nie koste doeltreffend om met leë voertuie saam met die bus te ry nie. Die veldvoertuie is dubbelkajuit bakkies met drie bedekte sitplekke agterop. Niemand sal vir meer as 1 uur aaneen op die agterste sitplekke sit nie. Waar ons in die verlede tot 11 persone per veldvoertuig vervoer het, gaan ons dit streng tot 8 (bestuurder ingesluit) beperk. Dit sal beslis ‘n belangrike veiligheidsbydae lewer.
Busse en die veldvoertuie hou groot gevaar vir insittendes in indien die voertuig sou rol. Suid-Afrikaanse bus en motorongelukke is dikwels noodlottig. Veldvoertuie, busse en dubbelkajuit bakkies, bied weinig beskerming ingeval van ongelukke. Die baie sterk rolstawe van die veldvoertuie help slegs indien jy nie onder een beland nie. Ongelukke moet derhalwe vermy word deur die spoed aan te pas en so waaksaam moontlik te wees.
BUNGI JUMPING Daar het al persone seergekry by laer spronge. Die brug by Victoria Falls is hoog. Derhalwe het geen persoon nog ʼn skrapie opgedoen in die nagenoeg 11 jaar wat daar elke dag minstens 70 spronge gedoen word nie. Om seer te kry in die bad is meer as 100 keer meer waarskynlik. Extreme Adventures bied hierdie avontuur aan. Hulle is uitstekend toegerus en bied ook die spronge in Suid-Afrika en Nieu-Seeland aan.
WHITE WATER RAFTING Daar is reeds sewe persone dood sedert die sport in die tagtigerjare begin is. Vyf van hulle was gidse wat hul lewens opgeoffer het om kliënte te red wat nie instruksies gevolg het nie. Die Zambezi is ʼn groot rivier en die veiligheidsmaatreëls en instruksies van jou gids moet nougeset nagekom word. Die gidse is almal uitstaande vriendelik, fiks en onverskrokke. As jy hul instruksies ignoreer kan jy egter uiterste streng optrede en selfs ligte toepaslike geweld verwag.
Statisties is die persentasie ongelukke onbeduidend. Geen koste word nietemin ontsien om die gevolge van ongelukke so klein as moontlik te hou nie. ʼn Hele span reddingspersoneel sal die Vasbyters vergesel. Veiligheidstoerusting sluit onder andere reddingskajakke en ʼn helikopter met duikers in.
WILDEDIERE Moenie illusies hê nie. Wildediere kan gevaarlik wees. Ek persoonlik aanvaar verantwoordelikheid hiervoor. Ek is dankbaar dat ek nog geen ongeluk beleef het nie. Die veiligheidsmaatreëls wat ek tref is al deur leeus en olifante getoets. Gelukkig het dit nog altyd gewerk. Seuns word sterk aangeraai om toe skoene in die veld te dra. Dit bied beskerming teen skerpioene en spinnekoppe.
ROETEMARS Die roetemars is lank en moeilik. Voorsorg word getref teen wildediere. Niemand loop ooit in die nag nie en ek is voortdurend in kontak met die groep. Veral slange hou ʼn gevaar in. Die beste moontlike noodhulp sal altyd beskikbaar wees. ʼn Slangbyt kan noodlottig wees. Skerpioen steke en spinnekop byte is veel meer algemeen, maar gelukkig minder gevaarlik. Ek het in die verlede hierdie soort van ongelukke suksesvol behandel en het min twyfel dat ek dit ewe suksesvol in die toekoms sal kan doen.
WIE IS DIE TOERLEIER? Andries Erwee (1958-model) ʼn vyftigjarige pa van twee dogters. Ek glo dat ek my roeping uitleef ten opsigte van die jeug. Ek het al Die Burger se jeugtoere (41 in totaal) gelei.
As veldgids of natuurgids het ek werklik baie ervaring en is as sulks geregistreer by die S.A. Departement van Omgewingsake en Toerisme (WC 2853). Ek is ʼn gerespekteerde lid van die Federasie van Suider-Afrikaanse Veldgidse (nr. 7486) en beskik oor ses nasionale veldgids kwalifikasies. (TG01,TG08/TG11/TG12/TG14/TG18) en as kultuurgids oor die hoogste nasionale gradering. Ek beskik oor 'n nagraadse onderwysdiploma en het 'n meestersgraad in leierskapsontwikkeling. Verskeie tydskrifte en nuusblaaie het al positiewe artikels geplaas oor my opvoedkundige metodes. Ek sal bygestaan word deur minstens twee jonger volwassenes. Sien sodanige artikel.Lees artikel
WAT WIL JULLE BEREIK? Die Kalahari-Vasbyt beweging glo baie sterk daaraan om jongmanne te bemagtig en nie geskenke uit te deel nie. Op hierdie toer sal u seun geleer word om nie te “demand” nie, maar om ʼn weg te vind om homself te help. Vasbyters sorg egter ook vir mekaar en die idee is dat ons later toenemend meer beurse beskikbaar sal stel vir oud Vasbyters.
IS DIT FISIES UITPUTTEND? Jy gaan beslis grense oorsteek op die Vasbyt. Daardie grense is fisies. Jy kan veel meer fisies doen as waaraan jy nou dink en ons gaan daardie grense oorsteek. Jy gebruik waarskynlik net ʼn baie klein deel van jou brein en ons gaan ook daardie grens oorsteek. Jy gebruik die mense rondom jou waarskynlik baie minder as wat hulle bereid is om te doen. Ook daardie grens gaan jy oorsteek. Jy is waarskynlik in staat om jou vriende en ouers baie meer by te staan en om baie meer in die gemeenskap te doen as wat jy tans doen. Ook daardie grens gaan jy oorsteek. Die Kalahari-Vasbyt is vir jongmanne wat moeg is vir die boring lewe van gemiddelde mense en iets spesiaal wil doen. Vir ouens wat wil uitstyg. Uitstyg is moontlik en lekker, maar altyd moeilik en uitputtend. Hierdie kursus leer jou om jou drome werklikheid te maak en drome te droom wat jy nooit oor sou dink nie.
KAAL IN GATE? Niks vernederend word toegelaat nie. Op die Kalahari-Vasbyt kry ons dikwels swaar, maar ons word nie verneder nie. Die volwassenes respekteer die privaatheid van die seuns en ons gee hul kans om te stort sonder dat ons hul stortplekke besoek. Ek was kaal voordat ek gebore is en verstaan daarom nie waarom mense dink groot mense kan iets baat deur kaal in gate te sit of kaal te oefen nie. Die vraag moet beantwoord word omdat mense dit vra, maar self die vraag is nie die Kalahari-Vasbyt waardig nie.
NET TE VEEL GELD VIR ‘N BINNELANDSE TOER? Kyk wat kry jy: 16 dae vervoer - Vliegtuigkaartjies R800.00 - Bungi VSA $110 - Witwater VSA $120 - 17 dae akkommodasie waarvan drie in chalets - Kursus materiaal R200.00 - Nasionale Parke toegange R680.00 - 16 dae se uitstekende etes en nog vele meer vir minder as ʼn vliegtuigkaartjie na Europa.
IS DIT NIE BUITENGEWOON WARM IN JANUARIE NIE? Dit is normaalweg baie gemaklik en lekker langs die Namibiese kus. Ook die noordelike deel van Namibië, Botswana en Victoria Falls is heel gemaklik. Ek het al uiters warm weer in die Sentraal Kalahari beleef tydens Januarie. Vanweë die wolke in Januarie is die gemiddelde temperatuur 4,3 grade koeler as in November en 2,8 grade koeler as Oktober. Berei jou nietemin voor op warm weer.
WAT GEBEUR AS EK OM EEN OF ANDER REDE UITVAL? Solank as wat jy aktief deelneem aan die kursus en die doelwitte onderskryf, bly jy deel van die toer. Jy sal selfs ʼn sertifikaat ontvang waarop sal staan dat jy die kursus bygewoon het. Op die wat die kursus geslaag het se sertifikaat, staan dat hul die kursus geslaag het. Ten einde die kursus te slaag sal jy sekere fisiese mikpunte moet behaal.
IS DIT MOEILIK OM DIE KURSUS TE SLAAG? Baie moeilik. Dit stel hoë fisiese en geestelike eise. Geen akademiese toets word afgeneem nie. Almal met die regte motivering kan die kursus slaag. Jy sal bv die 3000 m in onder 16 minute moet voltooi en die groep ‘n gemiddelde tyd van 14 minute moet kan doen. Dit is waarskynlik die maklikste hekkie om oor te kom.
WAAROM NIE MEISIES NIE? Ons beplan 'n soortgelyke toer vir meisies in September. Kyk gerus na die Meisie-Avontuur op ons web bladsy. Ons wil nie die seuns en meisies op een kursus neem nie. Daar is dinge wat fisies onmoontlik vir meisies is om te doen en daar is ander dinge wat ouens nie kan doen nie. Boonop verloor ouens hul fokus as meisies by hul is soos wat 'n reunhond sy fokus verloor as daar 'n teef naby is wat op hitte is.
HOE WORD DIE OUENS GEKEUR? Daar vind geen keuring plaas nie, maar dit is belangrik om te weet dat jy aan sekere fisiese vereistes moet voldoen om die kursus te slaag? As jy meer as 15% oorgewig is of 'n fisiese gestremdheid het, gaan jy waarskynlik nie die kursus maak nie. As jy hieroor twyfel moet jy gerus jou apteker of dokter se raad vra. Jy moet ook 3000 m in minder as 16 minute kan afdraf as jy die kursus wil voltooi.
BOONTOE |